Elke reeks bestaan uit ♦ ’n Handleiding met ses volledig uitgewerkte programme ♦ ’n CD met liedjies, geluide, PowerPoint-aanbieding vir elke les en visuele hulpmiddels in swart en wit en kleur. ♦ Werkboekies vir kinders (in pakke van 5 werkboekies) Meer boekies kan bestel word soos benodig. Fotokopiëring van boekies is streng verbode. |
Voorbeeldles
Op ‘n Skattejag
Ons Koning kom!
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Ses lesse oor die koms van die Koning van die konings soos lank terug reeds deur die profete voorspel
Kinders hoor
• God het gesê ons Koning kom!
• Niemand kan die koms van Koning Jesus keer nie.
• Koning Jesus het gekom om te dien.
• Koning Jesus het kom swaarkry om ons te red.
• Koning Jesus is kragtiger as die dood.
• Jesus kom weer as die Koning van die konings
Terugvoer oor Ons Koning kom!
Ons Koning kom is weereens ’n topkwaliteit publikasie van KidsXpress met ’n heerlike vars nuwe inslag. Kinders word op hulle vlak begelei om die breër verband te verstaan tussen gebeure in die Ou Testament en Nuwe Testament, en so die groter prentjie van God se plan raak te sien. Hulle kan opgewonde ontdek hoe God se beloftes, wat deur die profete voorspel is, honderde jare later waar geword het met die koms van Koning Jesus. Hulle leer dan hierdie Koning ken as díé Een wat gekom het om te dien, ons te red en die Oorwinnaar is.
- Minette Krog, Koördineer Kinderevangelisasie-projek: Helderberg Uitreik.
|
|
Ahooi!
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Ses stories oor bote in die Bybel om te wys dat God groter as die golwe is
Welkom aan Boord!
Ons hoor o.a. van ‘n wildtuin op die water, ‘n diepsee duik-dilemma en ‘n fenominale visvangs. Ons leer uit elke verhaal ‘n eienskap van God ken: heilig, goed, genadig, in beheer, almagtig en getrou.
Ons laat die kinders ook verder vaar deur met behulp van PowerPoint / ‘n kort video aan die kinders b(l)ootstelling gee aan uitreik- en hulporganisasies wat by ons see-tema aanpas. Die onderskeie organisasies is: Mercy Ships, Logos Hope, Biblia-Hawesending en die NSRI. Die vlugtelingkrisis op see word ook aangeraak.
Terugvoer oor AHOOI!
Hierdie reeks oor stormagtige bootverhale in die Bybel sal kinders weer met nuwe oë na God laat kyk om sodoende sy genade, goedheid, heiligheid, getrouheid en grootheid klokhelder raak te sien. Die ses verhale, drie uit die Ou Testament en drie uit die Nuwe Testament, word teksgetrou op ‘n oorspronklike, kindvriendelike manier oorvertel. Dit kan vir kinders ‘n ongelooflike belewenis skep waardeur die God, wat golwe kalm maak, lewensveranderend kan werk.
Johan en Lenda Muller, Petra Instituut vir kinderbediening
In hierdie boek kry kinders die geleentheid om God deur Jesus en Bybelse karakters te leer ken - binne die konteks van die beste en lekkerste plek: die see. Die storms, die vrees en die slegte word nie weggesteek nie. Kinders word juis geleer dat die golwe in die lewe oor jou gaan spoel, maar binne-in die golwe en die storms sien mens telkens God se almag.
Ds Marna van der Westhuizen, NHK Randfontein
|
|
Die kerk Werk Wêreld Wyd
Duurgekoop, ingeprop en aangeskakel om saam met God in die wye wêreld te werk.
Outeur: Tania Schultz saam met Werner Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Ses Lesse uit Handelinge om 7- tot 13-jariges te help om getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
Deur hierdie reeks sal kinders ontdek hulle is
Ons gaan op reis saam met Werk WêreldWyd toere!
Alhoewel jy nie die kinders in jou groep op ’n fisiese reis deur die wêreld kan neem nie, kan jy hulle deur hierdie reeks blootstel aan verskillende lande deur ’n virtuele reis te onderneem na die lande waar die apostels die evangelie die eerste keer verkondig het. Ons besoek Israel, Etiopië, Sirië, Damaskus en Italië.
|
|
God se Extreme Makeover-plan
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
7- tot 13-jariges leer by NEHEMIA hoe om aan God se geestelike huis te bou
God kom gee aan elkeen wat deur sonde stukkend gebreek is, ’n extreme makeover wanneer ons in sy Seun, Jesus, glo. Hy roep ons om sy herstelplan aan die wêreld bekend te maak en só sy koninkryk, sy geestelike huis op aarde, al groter en groter te bou. God rus ons toe met geestelike gereedskap om sy plan uit te voer. Ons leer by Nehemia hoe belangrik gebed, spanwerk en God se Woord is. Ons sien ook uit na die dag wanneer ons, soos in die Extreme Makeover-program op TV, as’t ware sal uitroep: “Bus driver, move that bus!” en God se volmaakte nuwe wêreld sal sien.
Bob die bouer is die karakter wat by elke geleentheid vir die kinders kom kuier. Bob maak die kinders telkens opgewonde met die sing van die liedjie, “Bob, the builder, can we fix it? Bob, the builder, yes we can!” Sit jou harde hoed op, want ONS GAAN BOU!
Nota: Maak solank leë kartonbokse van verskillende groottes bymekaar: Groot bokse waarmee ’n muur gebou kan word en kleiner bokse soos pap-, snesie- of skoenbokse vir aktiwiteite. Leë roomysbakke en botterbakkies waarmee kinders hul eie konstruksies kan bou, sal ook handig te pas kom. Versamel ook leë toiletrolletjies.
Frans Hancke van DiePLAN skryf oor God se Extreme Makeover-plan:
Op die voetspoor van Nehemia begelei Tania Schultz kinders om te ontdek dat God waarlik ʼn plan het. Meer nog, dat Hy met MY ’n plan het. Hierdie reeks van KidsXpress is veel meer as ’n leergeleentheid vir kinders; dit is ook ’n belewenisgeleentheid. Met die hulp van innoverende hulpmiddels word dit ’n opwindende ontdekkingstog vir kinders – die ontdekking dat God se Plan ’n Extreme Makeover-plan is. En wat meer is, God maak elkeen van ons ook deel van sy heelmaakplan, net soos Hy met Nehemia gedoen het.
DiePLAN is ʼn assosiasie van teoloë wat gemeentes inspireer en toerus om as missionale gemeentes hul rol en plek in God se heelmaakplan te ontdek en uit te leef. Materiaal wat gebruik word, is die resultaat van ʼn meesters- en doktorale studie aan die Universiteit Vrystaat. DiePLAN kan per epos gekontak word by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
|
|
Talente & Geestelike geskenke
Outeur Tania Schultz
’n Reeks om 7- tot 13-jariges te help om hulle geestelike geskenke te ontdek en uit te deel.
Ons hoor die verhale van kinders en jongmense in die Bybel, soos o. a. Dawid, Ester, Mirjam, Samuel en Timoteus, wat deur God gebruik is wanneer hulle hulle geestelike geskenke uitgedeel het. Kinders hoor dat hulle nie te klein is om hulle geestelike geskenke tot opbou van ander en tot eer van God uit te deel nie.
Danie Möller, Leraar van die NG Gemeente Helderberg, skryf oor Talente & Geestelike geskenke: Teoloë sukkel soms in die moeilike vaarwater van gawes en talente. Aan die een kant is dit goed om te onderskei – aan die ander kant is gelowiges se talente en gawes eintlik beide in die eerste plek in diens van God en ons naaste. Beide kom van God af. Ongelowiges én gelowiges se talente kom van die lewende God af. Gelowiges kry die addisionele geestelike gawes waar God ons wil gebruik as instrumente. Dan is dit nie so belangrik om te weet of dit nou ’n talent of ’n gawe is nie. Die belangrikste vraag is: Wat doen ek daarmee?
Hierdie publikasie kry dit reg om die begrippe “natuurlike talente” en “geestelike gawes (geskenke)” te verduidelik, maar dit so toe te pas dat die klem bly val op die heerlike uitnodiging om ons talente en geskenke uit te deel tot voordeel van mekaar en tot eer van God.
|
|
Droomland
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Pantoffels en pajamas en God se plan vir my lewe
ʼn Reeks vir 7- tot 13-jariges oor die lewe van Josef – van die put tot in die paleis.
Danie Möller, Leraar van die NG Gemeente Helderberg, skryf oor Droomland: In Droomland gebruik Tania Schultz op meesterlike wyse die verhaal van Josef om ons, saam met ons kinders, deur die sleutelgat van God se plan vir elkeen van ons te laat loer. Ons ontdek ʼn God wat, anders as ons, die groter prentjie sien en ons uitnooi om Hom daarin te volg. Hierdie diep inhoude word in Droomland duidelike praktiese drome van hoop en uitsien na die plan van God in elke kind se lewe. KidsXpress het ʼn reputasie opgebou vir uitstekende, praktykgerigte materiaal. Na my mening is Droomland ʼn nuwe hoogtepunt!
|
|
Jesus sê: EK IS
’n Vakansie op die plaas leer my wie Jesus is
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Wanneer jy die Ek is-uitsprake in die evangelie van Johannes lees, sê woorde soos goeie herder, skape, brood, wingerdstok, boer, vrug, lewe… alles vir jou net een ding: PLAAS! Trek jou denim aan, bind ʼn bandana om jou nek en sit jou strooihoed op – ons gaan plaas toe! Fanie Voëlverskrikker se manewales sal kinders elke keer laat terugkom vir meer…
Annalise Wiid skryf: Vakansie op ’n skaap-, koring-, vark- en druiweplaas word op ’n heerlike, vindingryke manier ingespan om die kinders op ’n ontdekkingstog deur Jesus se EK IS-uitsprake te begelei. Die laaste verrassende “plaas” wat besoek word, is waarskynlik die belangrikste en troosvolste van die lot … Hierdie EK IS-reeks is ’n voortreflike gids op ’n opwindende en lewensbelangrike reis!
|
|
Die Tabernakel
Nuwe Hersiene Uitgawe 2013
’n Aardse woning vir die Hemelse Koning
Outeur: Tania Schultz
'n Reeks van 6 lesse wat jou en die kinders saamneem op ’n reis om die tentkerk, die tabernakel, in die woestyn te besoek. Gaan saam met die kinders deur die ingang na die voorhof; Kniel by die brandofferaltaar en was in die bronswaskom; Staan stil by die wierookaltaar en bring julle offer van lof. Beweeg dan tot in die Allerheiligste en besef: “Ek is nou in die aardse woning vir die hemelse Koning". Die reeks is 'n moet vir Kinderkerk, Vakansie-Bybelskool en kampe.
|
|
Jy is Myne
7- tot 13-jariges ervaar die fees van kind wees in God se huisgesin!
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
In hierdie reeks hou ons met elke geleentheid ‘n “gesinsaand” (sonder Pa en Ma, alhoewel hulle ook welkom is!) Ons speel bordspeletjies soos Scrabble, Slangetjies en leertjies, Pick-up sticks en meer (ons buig wel die reëls so ‘n bietjie), terwyl ons hoor dat God ons elkeen wil aanneem in sy huisgesin.
Ons luister na die verhaal van Moses wat deur die Egiptiese prinses aangeneem word en ons wonder saam met Nikodemus hoe ‘n ou man weer gebore kan word. Ons hoor die Rags to riches-verhaal van Mefiboset wat deur koning Dawid aangeneem word en juig saam met die pa toe die verlore seun huistoe kom. Ons hoor ook Jesus se belofte dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat nie, maar weer kom om sy kinders te kom haal. Speletjies, saamsing, Bybelverhale, aktiwiteite en baie liefde laat elke kind ervaar hoe God vir hom/haar sê: “Jy is Myne.”
Dit is geweldig belangrik dat ons kinders moet grootword met die Bybel se verhale. Dit moet hulle manier van dink oor die wêreld vorm. Dit moet vir hulle ’n wêreld uitbeeld waarin niks sin maak sonder God nie, sodat hulle kan leer om so te kyk na die wêreld waarin ons elke dag leef. Dit moet hulle identiteit vorm: Wie is ek? Wie s’n is ek? Saam met wie is ek God s’n?
Dit is presies wat Tania Schultz met hierdie reeks doen en daarmee help sy die kerk oneindig baie. Boonop doen sy dit op ’n speelse manier en ons weet almal dat pret mense saambind. “The family that prays together stays together” kan aangevul word met “The family that plays together stays together!” Met aktiewe leerprosesse en sterk Bybelverhale word kinders geleer dat hulle deel vorm van ’n groot familie wat deur God bymekaargeroep is. Mag hierdie boodskap ingang vind in talle kinders se harte!
Dr Breda Ludik, Helderberg Gemeente, Somerset-Wes
|
|
Op'n Skattejag
Lei 7- tot 13-jariges om die skatte wat God in sy Woord bêre te ontdek, te geniet en uit te deel.
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Vandat 'n bottel met ’n boodskap in op die strand uitgespoel het tot die laaste les word almal ingetrek in ‘n werklikheidservaring soos min. Kinders neem aktief deel van die skattejag, moet seerowers trotseer wat hulle geestelike geluk steel, memoriseer Bybelverse, sing saam en word saam begelei om die grootste skat, Jesus, te ontdek en aan ander bekend te stel.
|
|
Redding 911
Help kinders om in Jesus as Redder te glo
Outeur: Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Die nood in die wêreld is groot. Redding 911 herinner ons almal: die God wat ons dien, is baie groter as ons nood. God het ’n plan vir die noodtoestande van ons lewe. Dit begin by dié Redder, Jesus Christus, wat na hierdie wêreld gestuur word.
’n Reeks uit Lukas om kinders te help om in Jesus, die Redder, te glo.
|
|
4 X 4 Avontuur vir Kinders
’n Woestynreis deur die boek Eksodus
Outeur: Tania Schultz
'n Reeks van 6 lesse oor die lewe van die volk van God vanaf die beloftes van Abraham tot die bou van die Tabernakel. Dit bevat 'n A4-handleiding, CD met liedjies en hulpmiddels in swart-en -wit en kleur asook 'n Power Point vir aanbiedinge. Wat die reeks nog meer opwindend maak, is die werk-boekies vir kinders.
|
|
Soldaat vir Christus
Wees deel van God se oorwinning oor die vyand!
Outeur: Tania Schultz saam met Werner Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
Kom ontmoet vir Romanus, die Romeinse soldaat, wat die kinders meer oor die Romeinse leër vertel. Help kinders om soldate vir Christus te wees en deel te hê aan God se uitklop-oorwinning oor die vyand. Sewe lesse uit Efesiërs 6:10-18 om 7- tot 13-jariges te help
om in die geestelike geveg staande te bly.
|
|
'n Vrugtefees saam met die Heilige Gees
Jesus en sy vriende wys ons hoe...
Outeur Tania Schultz
Illustrasies: Magriet Brink
7 lesse oor die vrug van die Gees om te help om meer soos Jesus te wees. ’n Handleiding (A4 p 84) met ’n fees van Speletjies, Bybelverhale, Stories en Visuele hulpmiddels. CD met “Groente en vrugte” -lied, van Soekie en die Radikids, ’n Powerpoint-aanbieding by elke les, visuele hulpmiddels in kleur om self uit te druk.
|
|
Hierdie webblad is veilig
0 Produkte | - | R 0.00 |
Besigtig Mandjie |
Werner en Tania Schultz
Adres:
Dramastraat 38
Somerset-Wes
7130
Suid-Afrika
E-pos:
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Tel:
021 852 8645
Kantoorure:
Dins-Don: 09:00 - 13:00
Bankbesonderhede:
Eerste Nasionale Bank [FNB], Somerset-Wes
Rekening naam: KidsXpress
Takkode: 200-512
Rekening nr: 620 809 36613